Melodie Ontkiem is ‘n prettige, visueel-ondersteunde beginnersklavierboek wat van die heel eerste note af die fokus op musiekmaak plaas.
In plaas daarvan dat die leerder bloot kort oefenstukke speel om bepaalde vaardighede in te oefen, word nuwe konsepte deur eenvoudige, melodieuse verwerkings wat mooi en sinvol klink bekendgestel. Dit is musiek wat die leerder graag wil speel!
Terwyl die leerder klavier speel, ontwikkel hy of sy terselfdertyd basiese noot- en ritmeleesvaardighede, teoretiese kennis en speeltegnieke. Daar word ook van vroeg af ruimte gemaak vir kreatiwiteit en improvisering.
Die boek bevat onder andere Suid-Afrikaanse volksliedere, ander liedere uit die openbare domein, eenvoudige teorie-oefeninge en ‘n begin-repertoire. Die bykomende klankbane stel die leerder in staat om reeds van die begin af saam met begeleiding te speel en musiek op ‘n ander manier te ervaar.
Melodie Ontkiem is nie aan ‘n spesifieke klaviermetode gekoppel nie. Dit gee die onderwyser die vryheid om sy of haar eie onderrigbenadering te volg, terwyl die leerder aangemoedig word om nie net note te lees nie, maar musiek te hoor, te speel en te geniet.
Dit is die eerste saadjie van ‘n groter reis – ‘n reis wat uiteindelik lei na vryer, meer kreatiewe en improviserende klavierspel.