Vrolike Klawers Musiek

Waar musiek jou ore laat dans!

Ek is Ria Aucamp.  Ek is al meer as 30 jaar besig met musiek, hetsy onderrig, 

musiekverwerkings, komposisies, musikant of net luister!  

Vrolike Klawers Musiek weerspieël my liefde vir musiek, die klavier en klawerbord 

en die eindelose moontlikhede wat musiek bied.

Wat begin het as ‘n liefde vir musiek en ‘n behoefte om musiek op ‘n 

ander manier te benader, het mettertyd gegroei tot iets veel groter.

Deur jare se ondervinding het nuwe idees, eie leermateriaal en ‘n 

liefde vir die kreatiewe sy van musiek ontwikkel.  Vir my gaan musiek nie net oor wat 

jy kan speel nie, maar ook oor wat jy daarin kan ontdek en leer liefkry.

Waar het die ore-dans vandaan gekom?

   IN ONS HUIS is musiek nooit ver weg nie.  Musiek luister in die aande gebeur baie – meestal lekker hard!  In ons en ons kinders se voertuie is die musiek nooit stil nie.  Een oggend, op pad skool toe, het my dogter en haar twee seuntjies soos gewoonlik in die motor na musiek geluister.  Toe een van die nuwe liedjies speel, merk my oudste kleinseun op: “ Mamma, dis so mooi, dit laat my ore dans!”  Daardie woorde het my bygebly.  Dit was só ‘n mooi manier om musiekvreugde te beskryf dat dit uiteindelik deel geword het van Vrolike Klawers se identiteit.  En so het Waar musiek jou ore laat dans! sy ontstaan gekry – en word dit gereeld in my studio gebruik.  Wanneer ‘n student ‘n stukkie besonders mooi vertolk het, of net mooi glad en musikaal gespeel het, sê ek dan ook dat hul stukkie nou “My ore laat dans het!”

Ek en die wêreld van klawerborde

My ontdekking van die elektroniese klawerbord

   MY KENNISMAKING met die wêreld van elektroniese klawerborde was ‘n hele nuwe avontuur.   My eerste (en toe baie duur!) klawerbord was ‘nie Technics KN701.  Hierdie instrument met sy pragtige klank het my bekendgestel aan ‘n wêreld van Styles en Voices.  Met 100 Styles en 100 Voices tot jou beskikking was daar soveel om te ontdek!  Ek was behoorlik in my element en die wêreld van klawerbordspel het oopgegaan.  

   ‘n Paar jaar later  het ek die geleentheid gekry om ’n Technics KN-SX1400 aan te skaf.  Dit het my nuuskierigheid net verder aangevuur.  Ek het begin eksperimenteer met verskillende Styles en nuwe moontlikhede ontdek.  In daardie dae het ons nog Styles – wat gelukkig toe al op die internet beskikbaar was – op 1.44 MB-diskette gestoor.  Kort voor lank het ek bokse vol diskettes gehad, netjies volgens musiekgenres gekategoriseer.  Daar was altyd nog iets om te probeer, ’n nuwe styl om te ontdek, ‘n klank te manipuleer.  My leerlinge het in daardie tyd vir hul ouers kassette en later cd’s gemaak om te wys wat hulle die jaar bereik het – baie harde werk en baie pret met die foto-sessies vir die omslae, en uiteindelik baie trots om die einde van die jaar dit aan die ouers te oorhandig.

Dit was vir my ’n besonder opwindende tyd.  Die klawerbord was nie meer net ’n instrument waarop ek musiek gespeel het nie, maar iets waarmee ek kon eksperimenteer, ontdek en kreatief besig wees.  

Old Faithful - 'n getroue ou musiekmaat

   DAAR IS klawerborde wat kom en gaan, maar dan is daar een wat sy eie spesiale plekkie verdien het – ja, my getroue Technics 1400!  Alma, een van my eerste en baie passievolle volwasse studente het aanvanklik met ‘n klein Yamaha begin.  Later het sy ‘n tweedehandse Technics 1400 op die internet raakgeloop en aangeskaf.  So het ons saam heerlik op die Technics-klawerborde gespeel en saam ontdek. 

Later het ek opgegradeer na ‘n Yamaha S770 (Technics was toe ongelukkig nie meer beskikbaar nie).  Natuurlik het net ek en Alma daarop gespeel terwyl die ander leerders steeds die Technics gebruik het.  Later het sy ook ‘n S770 aangeskaf en haar Technics verkoop.  Êrens langs die pad het ons begin praat van Old Faithful – ‘n naam wat die Technics perfek pas.  Statig, geduldig en altyd gereed vir nog ‘n leerling, nog ‘n cd, nog ‘n opvoering, nog ‘n kerkbegeleiding met sy ongelooflike sterk klank!  My dogter het ook op Old Faithful leer speel, en tot vandag toe het sy steeds ‘n besondere voorliefde vir hom.  Deesdae is hy op pensioen – maar nie vergete nie, rustig in sy hoekie, altyd gereed vir nog musiek.

Ek het intussen verskeie klawerborde verkoop en vervang, maar Old Faithful het gebly.  Hy het sy plek in ons familiegeskiedenis verdien, en eendag wag daar dalk weer ‘n nuwe musikale avontuur saam met my eie kleinkinders.

My eie klawerbordreis het intussen verder gevorder – my Yamaha SX920 is ‘n fantastiese instrument.  Met sy ongelooflike suiwer en realistiese klanke, onbeperkte Styles en funksies bied dit ’n wêreld van nuwe moontlikhede om te ontdek.

Klawerbordonderrig is meer as net note leer speel

   OM KLAWERBORD te onderrig, behels meer as om te weet waar die note op die klawers lê.  ’n Onderwyser behoort ook die basiese werking van elektroniese klawerborde te verstaan en vertroud te wees met die funksies en terminologie van die instrument om die student te lei en te motiveer om die meeste uit sy of haar klawerbord te kry.

Dis vir my ‘n baie belangrike deel van ‘n les om studente van die begin af leer hoe om hul eie instrument te gebruik.  Ek moedig hulle aan om nie net die note te speel nie, maar ook die wonderlike moontlikhede van hul klawerbord te ontdek.  Styles, Voices, Intro’s, Dual, Variation en Harmony is nie bloot knoppies en instellings nie – dit is die hulpmiddels waarmee hulle hul eie musiek kan inkleur.

Ek beskou ’n elektroniese klawerbord as ’n ‘persoonlike’ orkes wat net wag om deur die speler gelei te word.  Die student is in beheer daarvan! Daarom kry my studente dikwels opdragte om ’n stuk behoorlik op hul klawerbord uit te werk, deur met verskillende style en klanke te eksperimenteer en self te ontdek watter kombinasies die beste by die musiek pas.

Ek glo dat ’n mens as onderwyser nooit ophou leer nie.  Tegnologie verander, instrumente ontwikkel en daar is altyd iets nuuts om te ontdek.    Ek geniet dit om self nuwe dinge uit te probeer en daardie kennis en ontdekkings met my leerders te deel.

’n Goeie onderwyser hoef nie alles van dag een af te weet nie, maar moet bereid wees om te leer sodat hy of sy môre beter leiding kan gee.

Die skatkis van klavierspeel - van bladmusiek tot improvisering

   Ek HET ‘n besondere liefde vir improvisasie.  Dit is vir my een van die opwindendste aspekte van musiekmaak, maar dit kan baie uitdagend vir ‘n student wees. Wanneer ons van die blad af speel, het ons die note as ‘n soort vangmat – iemand het reeds besluit watter note ons moet speel.  Met improvisasie verdwyn daardie vangmat.  Ons moet self besluite neem oor wat ons speel, hoe ons dit speel en hoe ons die musiek verder kan ontwikkel.

Natuurlik is dit belangrik én lekker om musiek te kan lees en speel soos dit op die blad geskryf staan.  Maar daar is ook ‘n ander wêreld van musikale moontlikhede.  Met ‘n leadsheet kry ons byvoorbeeld die melodie en akkoorde as vertrekpunt, terwyl die linkerhand die vryheid het om verskillende begeleidingspatrone te gebruik.  Deur verskillende tegnieke toe te pas, kan ons ‘n stuk op soveel maniere verander, inkleur en ons eie maak.

Juis deur hierdie tegnieke te verken en toe te pas, ontwikkel elke speler mettertyd ‘n eie, unieke speelstyl.  Dit is vir my wonderlik om te sien hoe dieselfde musiek deur verskillende spelers heeltemal anders kan klink.

Ek glo nie dat daar net een manier is om musiek te leer of te onderrig nie.  Elke student is anders, en daarom moet onderrig ook ruimte laat vir verskillende belangstellings, vermoëns en musikale ontdekkings.

My doel is nie om elke leerling presies dieselfde musikant te maak nie, maar om vir elkeen ‘n goeie musikale grondslag te gee waarop hulle hul eie vaardighede, kreatiwiteit en musiekgenot kan bou.

My betrokkenheid by die Musiek-Akademie van Suid-Afrika

   DIE MUSIEK-AKADEMIE VAN SUID-AFRIKA bied musiekeksamens in ‘n verskeidenheid instrumente aan en my van studente lê ook jaarliks hul graad-eksamens af.  Ek is ook by die Akademie betrokke en kan met groot eerlikheid getuig van die passie wat die instansie het vir kontemporêre musiek en improvisering.

Die 2026-sillabus vereis dat klavier- en klawerbordkandidate met klankbane speel.  Dit is ook een van die redes waarom ek MELODIE so geskryf het dat daar reeds vanaf beginnersvlak met klankbane gespeel word.

Daar is opwindende vooruitsigte vir verdere uitbreiding van die Akademie, en ek sien uit daarna om deel van hierdie ontwikkeling te wees.  Loer maar gereeld op hulle webtuiste, asook op myne vir hierdie verwikkelinge!

Gaan kyk gerus op hulle webtuiste by www.themusicacademysa.com vir meer inligting.  Soos genoem, spits Die Akademie hom toe op improvisering – met elke graadvlak is daar verskillende tegnieke wat toegepas moet word op die stukke wat kandidate moet speel.